'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

'n Liefde vir Shibori

'n Paar Amper Mevrou diensverskaffers het so rukkie terug bymekaar gekom om die gestileerde fotosessie bymekaar te sit spesiaal vir die bekendstelling van Amper Mevrou. Dit is met baie trots wat ons dit vandag met julle deel!  

Bordeaux Game Farm in Baltimore, Limpopo het die verhoog gestel vir ons unieke fotosessie en die dekor en blomme was boonop ook deur hul gedoen. Die Shibori geinspireerde skryfbehoeftes wat inpas by die tema was ontwerp deur Lieflingkind Stationery & Design. Die modelle lyk pragtig in die mooiste rokke van die bekende modeontwerper Casper Bosman voorsien deur Closet Couture. Hulle hare en foutlose grimering is gedoen deur Roots Haarsalon. Dan sou ons natuurlik niks van hierdie mooi fotos met julle kon deel sonder ons talentvolle fotograaf, Alicia Landman nie.

Ons hoop jy vind sommer baie nuwe idees en inspirasie vir die beplanning van jou troue en dat jy nie sal huiwer om gebruik te maak van hierdie professionele diensverskaffers nie. 

Die inspirasie vir die fotosessie kom van 'n liefde vir Shibori wat ek nou al 'n hele rukkie koester en ons was net te opgewonde om vrye teuels aan ons innerlike hippies te gee. Shibori is 'n Japanese lapkleurtegniek, wat kom uit die agste eeu, toe indigo nog die hoofkleurstof was wat gebruik is, dus die hoofsaaklike kleur van ons tema en duidelik sigbaar op die tafelloper asook die lap servette en skryfbehoeftes. Dit was belangrik om die Shibori tema op 'n moderne manier uit te beeld maar nogsteeds eg te bly aan die klassieke styl. Daarom het ons gebruik gemaak van verskillende rokke in verskillend style - sprankelend formeel, elegant formeel en meer natuurlik, sag en informeel. Die venue self het ook baie geleentheid vir stilering gebied, van die formele saal en dekor tot die mooi natuurskoon wat die venue omring, die opsies was eindeloos! 

Met hierdie sessie het ons gebruik gemaak van koper en goue elemente wat die ryk kleur van die blou komplimenteer. Elemente soos kandelare en kerse tel die goud op en voer dit deur en skep 'n baie goeie kontras met die meer informele Shibori patrone. Ons het Boheemse tossels aan die onderkant van die spyskaarte gevoeg om 'n algehele formele gevoel te skep. Die nuwe tendens as dit by blomme kom is waterval-rangskikkings wat lank teen die tafels afhang met groot ruikers in die middel wat die opstel balanseer. Die effek word oorgedra in die modelle se handruikers en baie populere blommekrone.

Die doel van hierdie gestileerde fotosessie is om jou te inspireer om buite die boks te dink! Wees altyd getrou aan jouself en jou eie persoonlike styl en vind die beste diens verskaffers om by jou styl te pas. So sal jy jou groot dag aanpak vol selfvertoue en gemak.

Geniet die res van die fotos!