'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

'n Skoen wat pas

Skoene is lankal nie meer ’n bysaak wanneer dit by trou kom nie. Dit is deesdae amper net so belangrik soos die rok.

Tensy jy op die strand gaan trou en kaalvoet die paadjie gaan afstap, gaan jy beslis trouskoene nodig hê, wat mooi, stylvol en gemaklik is vir jou troudag. Alhoewel dit deesdae ’n belangrike mode-item is by troues en selfs gekies word om by die kleurskema in te skakel, is daar steeds bruide vir wie dit ’n bysaak is. Dit is egter ’n groot element van jou troue aangesien die skoene wat jy kies ’n groot invloed gaan hê op jou gemoed wanneer jy trou – jy gaan heeldag op jou voete wees en seer voete gaan net jou dag bederf.

Daar is verskeie faktore om in gedagte te hou wanneer jy jou keuse maak.

Die bruidegom se lengte:

Die meeste bruide wil nie langer as hulle bruidegom vertoon nie, daarom is dit ’n goeie idee om skoene met ’n lae hakkie te kies as jy lank is en selfs as jy en hy ewe lank is. Dit beteken egter nie dat jy nie elegant gaan lyk nie. Daar is baie mooi platter opsies beskikbaar. As jou bruidegom egter nie omgee nie, kan jy steeds daardie 9cm pragstukke dra!

Skoene moenie die rok oordonder nie:

Die skoenontwerp moet die rok komplementeer en nie oorskadu nie. ’n Rok met baie detail, lyk mooi saam met eenvoudige skoene en skoene hoef ook nie meer van dieselfde materiaal as die rok gemaak te wees nie.

Gemak is baie belangrik. Alle bruide behoort pragtig te lyk, hulle troue te geniet en nie na die tyd met sere en blase te sit nie. Baie Suid-Afrikaanse vroue het breë voete en daarom is ’n skoen met ’n oop toon gewoonlik ’n goeie idee. “Hoër hakke is meer elegant, maar het ’n invloed op die bruid se postuur. As jy 10cm hakke wil hê, oorweeg platvormskoene aangesien dit gemakliker is.
Mediumlengte, 6cm skoene is baie gewild omdat dit jou daardie bietjie lengte gee, maar steeds gemaklik is om in te loop en dans.”

Wat is tand gewild?

Kant: Kant skakel pragtig in by ’n romantiese tema en daarom is skoene met ’n kantafwerking die perfekte keuse om hierdie styl te komplementeer.

Wighakke: Baie bruide in Suid-Afrika trou buite op die gras, houtdek of op ongelyke oppervlaktes. Wighakke is eintlik ’n goeie opsie vir sulke troues omdat jy dan nie tussen die houtpanele of in die gras sal vassit met jou hakke nie.

Bling: Hierdie is steeds ’n baie gewilde opsie. Net so ’n bietjie sprankel om die oog te vang wanneer jy die aand om dans.

Ooptoonskoene: Tans is ooptoonskoene met ’n kant-, blomme- of kristalafwerking baie gewild.

Lae hakke: Bruide is mal oor 2cm-hakke. Dit is baie gemaklik en veral ideaal as jy lank en jou bruidegom kort is.

Platvorms: Korter bruide is mal oor hierdie skoene omdat dit hulle ekstra lengte gee en baie gemaklik is omdat dit ekstra ondersteuning bied.

Kleur: Die meeste bruide hou deesdae van wit of roomkleure om by hulle rokke te pas. Dit is egter ook in die mode om gekleurde skoene te kies, wat daardie ietsie ekstra aan die dag verleen.

Balletskoene: Dit is beskikbaar in al die kleure van die reënboog en met verskillende afwerkings om jou rok te komplementeer. Hierdie is verseker ook ’n baie gemaklike opsie.

Wat is uit? 

Ongemaklike skoene: Skoene wat te klein, te styf of te hoog is, is nie ’n goeie keuse vir jou troudag nie. Wees slim en prakties hieroor – want dit is ’n lang dag en jy gaan baie op jou voete wees. Kies gemak om jou troue ten volle te kan geniet.

Wenke vir trou skoene koop en dra:

- Begin vroegtydig soek! Jy moet die perfekte skoene hê voordat jy jou rok gaan aanpas. As jy nie die regte skoene het nie, sal die lengte van jou rok heel moontlik nie reg wees nie.

- Dink aan waar jou seremonie gehou gaan word. Oop skoene werk byvoorbeeld beter vir buitelugtroues, terwyl skoene wat toe is meer gepas is vir ’n elegante binnetroue.

- Neem die kleur van jou rok in ag wanneer jy skoene kies.

- Dra jou skoene voor die troue by die huis (en probeer ook daarin dans) sodat dit gemaklik en ingetrap kan wees op jou troudag.

- Gaste gaan jou skoene van alle kante af sien wanneer jy loop, so oorweeg dit om bietjie detail op strategiese plekke in te sluit.

Artikel deur: Wedding Events by Euruka