'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Vragies vir Agies - Elize Mare Photography

Elize se passie vir fotografie kom al 'n lang pad, haar man beskryf haar graag as 'n tipiese "Japanese toeris", altyd 'n kamera in die hand! Vir Elize gaan dit oor meer as om net 'n foto te neem, dit gaan oor die herhindering wat in daai oomblik vasgevang word, 'n herhindering wat die toets van tyd sal oorleef... Elize deel graag 'n paar fotos van Juanita en Chris se pragtige troue by Sôkêng Wedding Venue.

Vertel ons ’n bietjie van jouself

Ek is ‘n Ma (kan seke nie meer sê mamma nie) van ‘n 19jarige seun.  Getroud met my Hoërskool Liefde (going strong vir 22jr hierdie September).  Ek is lief vir my gesin – en dit sluit die viervoetiges in, 1 Jack Russel en 2 Albanian white rabbits. 
Alhoewel ek ‘n romantiese siel is, het ek ook ‘n bietjie van ‘n waaghals in my met die wat ek tot so twee jaar terug nog ‘n Motorsport SA fotograaf was.  Ja, ek was ‘inside track’ tussen die brullende voertuie, maar met my troues wat al hoe meer begin raak het, het ek dit opgegee om my aandag op troues en leefstyl fotografie te fokus.  Ek vermoed my bruide voel ook meer gerus!

Ek was vir baie jare in die Korporatiewe industrie, en het fotografie deeltyds gedoen, tot en met 2011 wat ek die groot sprong gevat het en my passie voltyds begin volg het.
Vir ontspanning hou ek daarvan om saam met my gesin ons provinsie, en ander provinsies, te ontdek en toeris te speel in ons eie land. 
Ons is ook ‘n gesin wat baie saam doen, en een ding wat ons baie geniet is saam motorfiets ry.  Ek het my eie brulperd, ‘n Honda CBR900 en dit is wanneer ek ry wat ek die beste ‘me-time’ het op die oop pad.

Waar kom jou passie vir fotografie vandaan?

Ek was maar nog altyd die ‘Japanese tourist’ soos my man my gedoop het toe ons nog uitgegaan het.  Altyd ‘n kamera in die hand gehad en herinneringe vas gevang – destyds nog op film.  Vir my is dit ‘n manier om herinneringe vas te vang, dit weer te sien en te herleef.  Hierdie het ek raakgelees, en dit is vir my so waar, want ek is nie so goed met skryf soos wat ek met fotografie is nie.

”Photography is the story I fail to put into words” – Destin Sparks

Wat is jou gunsteling plek waarheen jou fotografie jou al geneem het?

Verseker die mooiste mooiste Kaap – ek was juis nou onlangs (einde April) daar en het die mooiste fotosessie gehad.

Watse tipe voorbereiding doen jy voor jy ’n troue afneem?

Shoe, waar om te begin… ek is ‘n ‘lysie’ mens, so ek sal probeer om dit bietjie op te son.  My voorbereiding begin reeds voor ek die kliënt ontmoet waar ek ‘n lys van vrae het wat ons tydens ‘n afspraak bespreek. Die afspraak  is ook sommer waar ons net gesels oor hul groot dag en mekaar ‘n bietjie leer ken sodat ons almal meer op ons gemak is die dag met die foto’s neem.

Ek het dan ook ‘n vraelys wat die paartjie vir my voltooi, en ons doen ook ‘n eShoot (verlowings fotosessie) wat hul nog meer op hul gemak stel, en wat my help om te sien watse posisies werk met hulle, want nie alle ‘poses’ werk met alle mense nie.
So week voor die troue sal ek die tydlyn, spesiale versoeke ens aanvra.  Twee dae voor die troue loer ek per foon gou gou in om net als 100% te bevestig.  Die dag voor die troue sal ek al my toerusting skoonmaak en regkry vir die volgende dag.  Ek sal ook bietjie inspirasie gaan soek op die internet by my rol modelle en my uitrusting vir die troudag beplan.  My uitrusting is ook vir my belangrik, ek moet gemaklik wees om te kan buk, klim of lê en tog professioneel genoeg lyk.
Die oggend van die troue maak ek weer 100% seker ek het als gereed en ek vertrek om die dag se gebeure vas te vang.

Wat is van die moeilikste uitdagings wat jy as trou fotograaf al teegekom het en hoe het jy dit oorkom?

Geen troue wat ek al afgeneem het, het al sonder ‘n uitdaging gegaan nie.  Ek laat niks my onder kry nie, en werk teen die beste van my vermoë om als so glad as moontlik te laat verloop.  Ek dink baiekeer ons fotograwe is maar soms ‘n skeidsregter… soms ‘n tydhouer vir tydsbestuur… en soms sommer net ‘n skouer, en ons het dus baie ‘jassies’ wat ons aantrek.

Een van my troues wat nogals vir my ‘n moeilike uitdaging was, was ‘n buitelug troue in Hartebeespoortdam, op die berg by die kabelkarretjies, waar dit SO gereën het die hele dag, dat ons amper geen buitelug foto’s kon neem met die paartjie nie – maar mens maak ‘n plan en jy maak dit werk – en produseer so die beste werk ooit.

Wat geniet jy die meeste van trou fotografie?

Die romanse.. die liefde… die mooi van elke troue en elke paartjie se seremonie – die emosies, ai dis baie keer so emosioneel dat ek self ‘n traan pik!  En dan natuurlik wat ek die heel meeste geniet is die paartjie se fotosessie – die eerste uur alleen saam as getroude paartjie – ek lief dit om te sien hoe hul vir mekaar kyk!

 

Hoe sal jy jou styl beskryf?

Romanties, sag en natuurlik – met ‘n bietjie leiding, want nie almal is modelle nie, en mense voel maar vreemd voor ‘n kamera. 
Natuurlike lig is vir my die mooiste, maar ek gebruik ook ekstra beligting waar nodig, en speel graag met nag foto’s as daar geleentheid is.

Watse tipe raad sal jy aan bruide gee wat opsoek is na ’n trou fotograaf?

- Soek ten minste 3 fotograwe wie se werk met jou ‘praat’ en waaroor jy mal is.  Maak seker jy kyk op al hul media platforms, en vra ook of jy meer van hul werk kan sien gedurende ‘n afspraak.

- Reël ‘n afspraak met die fotograwe (apart) en leer ken hulle ‘n bietjie deur net te gesels – daar moet ‘n sinergie wees tussen julle en die fotograaf.  Jy moet met die afspraak al kan besluit wie die fotograaf vir jou is – vir my gaan die keuse nie net altyd oor die produk wat jy kry nie, maar oor die hele ondervinding.

- ‘n Verlowings fotosessie vir my is belangrik – dit help julle as paartjie net soveel as die fotograaf en stel almal net nog meer op hul gemak met mekaar, wat maak dat mens soveel lekkerder saamwerk.

- Pinterest is goed vir idees. Maar onthou…. Jy besluit op jou fotograaf gebaseer op haar/sy werk wat jul gesien het – so vertrou jou fotograaf om te doen wat hy/sy goed doen en gee daardie kreatiewe vryheid.

- As jy onseker is oor iets… VRA.  Ek is altyd oop vir paartjies om my te kontak en noem ook dat as ek nie dadelik antwoord nie is ek heelmoontlik net besig met ‘n troue, en dat ek wel aandag aan jou boodskap sal gee sodra ek kan.

- En vir my die belangrikste raad wat ek kan gee:  Onthou dit wat julle as paartjie vir jou fotograaf gee, soos emosies… die vashou van hande… die kyk vir mekaar, DIT kan maak dat jou fotograaf ongelooflike foto’s kan produseer.  Hoe meer julle ‘gee’ hoe mooier is jul foto’s ;)